Die blouaap is een van daardie diere waaroor mens gemengde gevoelens kan hê. Hy het die vermoë om jou die een oomblik te laat “Oe en aa” oor hoe oulik die kleintjies is, en die volgende oomblik vloek jy hom want hy het jou pak wine gums en jou laaste avokadopeer uit die kombuis uit gesteel. 

Toe ek nog wildvang gedoen het in die Vrystaat, het ek so ’n oomblik gehad. Ons was besig om te werk in die Sandveld Natuur Reservaat. Dit was nog altyd my gunsteling Vrystaat-reservaat. Dit is geleë aan die oewer van die Bloemhof dam vir dié wat hou van ’n bietjie visvang. Waar die Vetrivier die dam binnevloei, vorm dit byna ’n tipe delta in goeie reën jare. Regoor die reservaat is rooisand en kameeldoringbome. Die sand lyk selfs hier en daar of dit ’n duin wil vorm, amper asof jy op die voorstoep van die Kalahari speel.

Wildebeeste hardloop oor die ‘Bloemhof-delta’

Dis juis in die toppe van hierdie kameeldoringbome wat ek die eerste keer blouape sien ontdooi het. In die ysige wintersoggende langs die dam, sukkel die helikopter se Lycoming enjin om aan die gang te kom. Na ’n paar blawwe vat hy, en wanneer hy genoeg opgewarm het, styg ek op vir die vlug na die vangkraal toe. Bo-op die boomptoppe sien jy die wit figuurtjies regop staan. Soos die eerste strale van die son neersak om die vorige aand se ryp weg te smelt, staan hulle met hulle wit pense na die ooste gekeer. Ek het gedink hoe oulik dit lyk, minwetend dat ek hulle in ’n paar uur sou vloek

Ná die dag se vangs het ek, JP en Jan, die ander jongmanne in die wildvangspan, gedoen wat jongmanne doen. Dice! Hulle in hul wildvangbakkies, en ek in die helikopter. Jy mag dalk dink ‘n helikopter het ’n onregverdige voordeel, maar nie altyd nie. Veral as jy in ag neem die opwarm prosedures van die helikopter ens. Plus, enige iemand wat al ’n wildvang operasie aanskou het, weet dalk dat wildvangbakkies soms ook kan vlieg.

‘n Tipiese wildvangbakkie. Hierdie spesifieke een loop soos ‘n witsneltrein.

Die helikopter het wel daardie dag die resies gewen. Dalk net omdat ek nie hoef hekke oopgemaak het nie, maar ek was eerste by die chalet wat ons drie gedeel het. Met die oopsluit en intrapslag sien ek in die hoek van my oog die gordyne roer. My eerste gedagte is dat JP of Jan my dalk geklop het in die resies. Dis toe dat ek die slagting in ons chalet sien. Pakke beskuit, Nik Naks, koffie en suiker lê rondgestrooi die hele wêreld vol en ’n paar wit-en-swart gesiggies loer agter die gordyne vir my uit. Net toe sluit die ander twee renjaers by my aan, en ek deel die slegte nuus met hulle. Die ape is in ons chalet! Vinnig kom ons agter die kap van die byl, Jan het die toiletvenster oopgelos toe ons vroeg vanoggend daar weg is, en dis waar die ape ingekom het. Hulle het die hele dag in die chalets spandeer, en het als verslind wat hulle in hulle taai, klein handjies kon kry.

Ons storm toe daar in en verwilder die ape. Daar peul ’n horde van hulle agter die gordyne uit en vir ’n oomblik lyk ons chalet soos ’n toneel uit Planet of the Apes. Meeste van die ape vind hulle ontsnappingsroete gou weer by die toiletvenster uit. Maar so vyf van hulle mis die afrit toilet toe, en hardloop verder in die gang af tot in die stort/badkamer. Daar is dit ’n doodloop, en hulle is vasgekeer.

Ek begaan toe ’n reuse fout. Gewapen met ’n mop en ’n asblikdeksel, besluit ek om die vasgekeerde ape te bestorm. My idee was om hulle ’n groot skrik op die lyf te jaag en hulle ’n les te leer. Wel, ek was suksesvol in die eerste deel van die plan. Hulle het groot geskrik, maar ek was al een wat daardie dag ’n les geleer het. Moenie ’n vasgekeerde aap skrikmaak nie!

Die stort/badkamer bestaan uit ’n wasbak en ’n bad, met ’n stort binne-in die bad. Een van daardie goedkoop stortgordyne gemonteer op ’n lang aluminiumpyp. Die ape het in die hoek van die badkamer probeer wegkruip, toe ek skreeuend daar in storm. Met my mop en asblikdeksel moes ek soos iets tussen ’n viking en ’n huishulp gelyk het vir die verbouereerde ape. Hulle het paniekbevange begin doen wat paniekbevange ape doen, spring en skeit. Die enigste ding waaraan hulle regtig kon gryp was die gladde, aluminium gordynreëling. Soos ’n goed gekoreografeerde akrobatiese vertoning uit die Cirque du Soleil, swaai die ape al om die reëling. Al verskil tussen die ape en die akrobate, was dat daar ’n konstante stroom aapstront uit die een lot gespuit het. 

Die vyf aap-robate swaai al skeitende, heen en weer om die reëling. Party van hulle swaai in ’n 270 grade patroon, eers vorentoe, dan weer agtertoe, en mors hulle geelgroen, Nik-Nak en beskuit mage al teen die muur op en af. Die een talentvolle meneertjie, seker geïnspireer deur Michelangelo se verfwerk op die plafon van die Sistiense kapel, swaai die volle 360 grade om die reëling, en versier selfs die badkamer se plafon!

Ek het vinnig die flater in my skoktaktiek besef, maar dit was te laat! Die skade was gedoen. Mettertyd het die ape se mage genadiglik uit druk uit begin hardloop en hulle het begin misfire soos ou Lister enjins. Uiteindelik het die stortreëling ook ingegee. Ek het teruggetree uit die badkamer uit, en die ape het ontsnap op hulle eie tyd. 

Die badkamer het soos iets uit ’n gruwelfilm gelyk. Ek het nie geweet of ek moet lag of huil nie. Ons het die res van die dag spandeer deur die badkamer mure en plafon te skrop! Vir dae het die chalet nog na aapstront geruik, ten minste het dit as ’n herinnering gedien om die vensters toe te hou.

Dit was die dag wat ek geleer het, om twee keer te dink voordat jy ’n aap skrikmaak!

7 thoughts on “Aapstreke.

  1. Dis presies waarvoor ek bang was die dag toe wyfiebobbejaan met baba op die rug my met ‘n besoek verras het in my eenvertrekhuisie. Op ‘n manier was ons albei vasgekeer. My diplomatiese (hoewel effe paniekerige) oorreding het op dowe ore geval, maar gelukkig was my karige koskas nie baie aanloklik nie. Na ‘n gerondsmyt (gelukkig nie rondskeit nie) van blikkies en boksies is sy uiteindelik net met ‘n pak beskuit onder die arm by die venster uit.

    Like

Lewer kommentaar